Die afgelope naweek het ons o.15- en o.17-sewesrugbyspanne hulle staal gewys tydens die Forge 7’s Toernooi wat by Hoërskool Ben Vorster aangebied is. Die o.15-afdeling het op Vrydag, 28 Augustus, plaasgevind, terwyl die o.17-spanne op Saterdag, 29 Augustus, in aksie was.
Ons o.15-span het die toernooi met groot selfvertroue afgeskop en in hulle eerste poelwedstryd ’n indrukwekkende 66–00-oorwinning teen Waterberg Akademie behaal.
In die tweede poelwedstryd het die span vasgeval in ’n uiters spannende wedstryd teen Hoërskool Piet Potgieter en met 24–26 die knie gebuig. Die Dallers het egter onmiddellik teruggeveg en in hulle derde poelwedstryd met ’n uitstekende 43–5-oorwinning teen Hoërskool Frans du Toit vorendag gekom.
In die Bowl-semifinaal het ons seuns dit ongelukkig nie reggekry om die tuisskool, Hoërskool Ben Vorster, te oorwin nie en met 07–31 verloor.
Die span het egter karakter getoon en dié toernooi op ’n hoë noot afgesluit. In die uitspeelwedstryd om 7de en 8ste plek het ons Dallers met 26–22 teen Merensky Landbou Akademie van Tzaneen geseëvier.
Die o.15-span sluit die toernooi dus af met ’n algehele 7de plek – ’n prestasie waarop ons baie trots is!
Ons o.17-sewesrugbyspan het hulle toernooi én seisoen op ’n besonderse wyse afgeskop en met ’n algehele derde plek geëindig.
Ons Dallers het in hulle eerste poelwedstryd onmiddellik hulle teenwoordigheid laat geld met ’n indrukwekkende 31–00-oorwinning oor Hoërskool Eric Louw.
Hulle het daarna die momentum voortgesit en Curro Heuwelkruin met 39–00 verslaan. In hul laaste poelwedstryd het dié span Hoërskool Louis Trichardt met 24–10 kafgedraf en sodoende hulle plek in die Bekerafdeling se uitspeelrondtes verseker.
In die Beker semi-finaal het ons ongelukkig met 07–32 teen Hoërskool Pietersburg verloor. Die span het egter nie moed opgegee nie en hierdie toernooi met ’n uitstekende vertoning in die Bronsfinaal afgesluit.
Daar het hulle met 19–10 teen Hoërskool Hans Strijdom geseëvier om ’n welverdiende bronsmedalje en algehele derde plek te beklink!
Ons is ongelooflik trots op beide ons o.15- en o.17-sewesrugbyspanne. Hulle het die afgelope naweek gewys wat gebeur wanneer talent, harde werk, deursettingsvermoë en Dallerhart saamkom.
Baie geluk aan al ons spelers met hulle uitstekende vertonings en prestasies. Julle het Hoërskool Ben Viljoen se naam met trots verteenwoordig!
.png)